kerrie


Ek het 'n passie vir kerrie. Ek was onlangs in Durban by die Spice Emporium. Dit is 'n winkel wat my soos 'n kind laat rondhardloop het. Ek kon kies tussen 50 soorte kerrie om nie eers te praat van ander speserye, bone, lensies, ingemaakte lemmetjies, rys, potte en panne nie! Tipies wat met my gebeur in so winkel is dat ek skarrel en uitstap met net helfte van wat ek wou koop omdat ek nie kan besluit nie. Ek koop toe maar "butter chicken masala" en "garlic and ginger masala".

Kerrie is iets wat diep onder in jou gereg moet wees. Daar waar die hoender en uie braai moet hy in. My kerrie filosofie is 'n mengsel tussen Asiatiese kerries en ons Indiese/Maleise Kerries wat ons hier in die Kaap kry. So dit is nie vir die purityne nie. My hele blog is nie vir hulle nie, noudat ek daaraan dink!

Jy gooi bietjie olie in jou pot. Gooi 3-4 lepels kerrie (minder as dit die warm "mother-in-law's-tongue" kerrie is!)op medium hitte met uie en soteer. Voeg dan jou hoender (vleis of vis ook) daarin en braai lekker. Die kerrie sal so begin vassit teen die hoender en die bodem. Gooi dan so halwe glas witwyn in sodat die kerrie kan loskom van die pot se bodem af en prut. Voeg nou bietjie patat, wortels of engige ander groente waarvan jy hou in. Halfte vleis, halfte groente. Stoom solank jou basmati rys.

Die wyn sal begin wegkook, voeg nou een blik coconut melk/room by. Strooi 'n gryp sout en growwe swart peper by. Sit nou jou pot in die oond met die deksel op teen 180grade. Die bottel witwyn is mos darem nou al oop. Gaan spring trampolien met jou kinders.

Na so 45 - 50 minute kan jy die pot uithaal, vir rooivleis soos skaapnek sal dit langer wees. Sny vars koriander. Skep die rys met die lekker lang hoender kerrie sous daarop, strooi bietjie vars koriander blare bo oor en siedaar.

Die fout wat mense maak is om te dink dat kerrie jou moet brand dat dit bars. In sommige Durbanse kombuise gaan dit wel die geval wees maar as jy werk met byvoorbeeld "butter chicken masala" sal jy oorval word deur die wonderlike diep geur wat eintlik glad nie brand nie - ag miskien net so bietjie!

No comments:

Post a Comment