steak


Dit bly maar vir my die koning van vleis. As jy dit reg gaarmaak natuurlik. Miskien is dit vir my so lekker omdat ek dit net kan bekostig aan die begin van elke maand as die pay in is en die aftrekorders nog nie af is nie! Dis in daardie vensterperiode van die 25ste van elke maand, waarbinne ek my steak maak. Ek gaan nou nie eens probeer om te skrywe oor braaigeregte nie. Hierdie blog gaan nie oor braai nie(Dus praat ek van steak in die pan of op 'n griddle) maar is geskryf vir die vrou of man wat moeg, met skreeuende kinders elke aand iets wil optower wat opnuut die romanse kan inspireer. Goeie kos met kerse en wyn is volgens my die resep vir partners om mekaar weer te begin vind. Maar as jy nie die vullis sakke uitsit nie, moenie dink steak gaan jou red nie!

Terug na die steak. Fillet is nie steak nie, dis 'n sagte ding wat jou baie geld kos met bitter min karakter. Steak vir my is rib eye, rump of sirloin. Maak seker dat die slagter vir jou die steaks sny in so ongeveer 3cm skywe met so stukkie vet aan die kant. Dit is lekker om dit te maak saam met varsgemaakte patat of aartappel skyfies en slaai. Daaroor gaan ek nie praat nie. Vat jou lekker pan. Gooi olyfolie in en maak BAIE warm. Maak die vensters en deure oop en moenie met jou beste hemp staan ek kook nie. Sit die steak in die pan. Moenie skrik as dit raas en rook nie. Moenie lol met die steak nie, gee hom so 3 minute. Die vleis sal karameliseer en wegtrek van die pan af. Draai dit om en wag weer so 3 minute. As jy well done steaks wil eet, doen dit om vadersnaam net nie in my geselskap nie. Moenie die hitte afdraai nie en gee vir die brandweermanne by die deur 'n glas koeldrank.

Haal jou steaks uit en laat rus op jou snybord vir so 5 minute. Moenie dadelik eet nie en moenie opwarm nie, jy gaan die gereg opmors. As jy sous oor die vleis wil eet kan jy dit gou maak. Gooi vars sout en peper oor die vleis of in die sous.

Gooi die wyn, skep die chips en slaai op die borde. Sit die steak op die borde. Steek gou die kerse aan. Kyk in jou partner se ogies. Geniet!

No comments:

Post a Comment