bredie


Ek noem dit bredie want vir my is potjiekos ook maar net bredie, met die verskil dat die potjie op die oop vuur buite gemaak word. Wat ek gebruik:
1 Kg skaap skenkels of nek, of boudchops of bees chuck. Maak seker dat daar nie te veel vet aan is nie. Moenie jou neus optrek vir goedkoper stukke vleis nie, dit is gewoonlik goedkoper omdat dit taaier is maar het definitief meer geur. Daar moet egter bene in wees. Dan gebruik ek gemengde groente - wortels, brussel sprouts, patat, baby marow, uie ens.

Jou vleis gaan langer neem so fokus eers daarop. Braai een ui, fyngesny saam met bietjie knoffel onder in jou swaar pot in olyfolie. Nou voeg jy so 2 tot 3 koppies vloeistof by. Rooiwyn sal ook werk. Voeg nou so paar lekker draaie sout en peper, lourierblare, vars origanum of roosmaryn ens in. Nou sit ek my swaar pot in die oond teen so 180 grade vir 2-3 ure. Gaan stap met die hond. Haal die pot uit en voel of die vleis al sag is. Dit moenie van die bene afval nie maar so 45 minute van sag af wees. Sny jou aartappels, patat, butternut en wortels in skywe of kwarte. Pak eers die wortels, dan aartappels, patat/butternut en heel laaste jou groen groente bo op. Moenie wild aan die roer gaan nie, dis nie herderspastei nie!

Stoom jou rys solank of maak jou couscous. Na ongeveer 45 minute haal die pot uit en toets die vleis. As dit lekker sag is kan jy dit uithaal en solank begin tafel dek. Skep nou die mengsel versigtig bo oor die rys.

Hoender gaan baie dieselde werk, die gaarmaaktyd gaan net korter wees. Wat bestandele betref kan jy amper enige iets gebruik. Jy kan die pot kerrie, jy kan in plaas van water of wyn, coconut melk gebruik saam met vars coriander en thai green kerrie. Die opsies is legio maar die beginsels dieselfde. Die geheim is nie te veel of te min vog nie, nie te veel oopmaak nie, nie roer nie en stadig oor die klippe - jy kan hom nie aanjaag nie.

Geniet dit, die pot is 'n metafoor van ons lewens, soos Martin Versveld geskryf het. Die bestandele moet mekaar vind en as't ware in harmonie met mekaar saam leef/prut. Jou goeie ou swaar pot is jou venster op die lewe, die liefde en smart. Om met iemand so pot te deel is om die bybelse brood te breek. Miskien moet Suid Afrikaners meer saam potjies maak en eet!

No comments:

Post a Comment