salm


Ek weet salm is een van daai fancy en duur artikels wat die meeste mense nie eers in die begin van die maand kan bekostig nie. Maar dat dit wragtig spesiaal is, is nie altemit nie. As jy 'n ligte gerookte forel in die hande kan kry sal dit ook werk, Woolies verkoop hom en die pakkies kos so ongeveer R40 en vir die gereg is dit genoeg vir 4 mense.

Jy benodig 1 medium salm/forel, dit hoef nie gerook te wees nie maar dit sal ook werk. Maak net seker al die grate is verwyder (jy sal by my moet kom kuier dat ek jou kan wys hoe om dit maklik te doen, woolies doen dit egter darem vir jou). 1 bossie rocket, 3-4 suurlemoene, soja sous, growwe sout, peper, olyfolie en 'n lekker advokadopeer.

Haal die vel van jou vis af. Jy draai jou vis met die vel na bo. Met 'n klein skerp messie werk die een kant se punte los, amper asof jy 'n sticker losmaak van die papertjie. Die vel is taai en soos dit wegkom kan jy dit mooi afterk - trek met die een hand en druk die res van die vis met die ander hand plat op die bord. Gee die vel vir die hond. Nou sny jy die gerookte forel/salm in dun repies - so 1cm breed en afhangende van die breedte van jou vis, seker so 5-8cm lank. Gooi dit in 'n mengbak en druk jou suurlemoensap daaroor uit sowel as so twee lekker blertse soyasous. Dit moet die repies heeltemal toemaak. Laat staan vir so 30 minute. Kyk Heidi saam met jou kinders.

Haal jou salm uit die suurlemoensap, dit sal effens witter voorkom want dis eintlik nou gaar! Gooi die salm en rocketblare in 'n slaanbak. Sny die advokadopeer in skywe en plaas op elke bord. Meng jou salm, rocket met genoeg olyfolie, growwe sout en peper. Gebruik jou hande en gee nog so skoppie suurlemoensap ook. Skep op die bord langs die avo. Skink 'n glasie yskoue witwyn. Smul!

No comments:

Post a Comment