risotto


Risotto maak mense bang, of eintlik nie - hulle maak dit net nooit nie! Vir my is dit die perfekte kos vir 'n koue wintersaand. Die enigste nadeel is dat dit redelik tyd neem en jy moet maar by die pot staan. Ek maak 'n bottel wyn oop en ek en vroulief staan maar en gesels terwyl die kleingoed rondom ons peuter.

Koop risotto rys, gewoonlik by die pasta of rys gedeelte in jou supermark. As jy op Bredasdorp bly moet jy maar vir jou vrinne in Somerset Wes kom kuier 'n slag, en dit daar aankoop! Maak 'n lekker groot pot hoender of groente aftreksel, Ina Paarman maak 'n blikkie baie goeie aftreksel of maak jou eie. Dis handig om dit te doen want mens kan dit vries en dit proe net soveel beter is die klein gifblokkies.

'n Eenvoudige resep is lekker bruin sampioene, uie en knoffel onder in jou pot gebraai in olyfolie tot sag. Gooi nou so 250 gram risotto in en braai stadig saam met die mengsel vir so 2 minute terwyl jy dit lekker deurmekaar roer. Nou moet jou aftreksel pot neffens die risotto pot staan. Dit moet nog sterk warm wees maar hoef nie meer te kook nie. Gooi nou een koppie wyn by die rys en kook af. Nou begin die werk. Jy skep met 'n soplepel elke paar minute aftreksel bo-oor die rys wanneer dit begin droog raak. Dit neem so halfuur waartydens jy die hele tyd nog 'n lepeltjie moet oorsit en roer.

Wanneer die rys sag raak, verminder die vog vir die laaste keer en dan kan jy 'n jou gesnyde sampioene, vars origanum, treksel room en handvol parmesan kaas oorgooi en deur roer. Ek vind dat dit ook sonder die room werk omdat die stysel van die rys baie romerig raak. Voeg sout en peper na smaak by. Na ete sal almal trommeldik op die mat gaan uitstrek. Nou kan jy by hulle almal geld leen!

No comments:

Post a Comment