dolmades


Hierdie is 'n maklike ding om te doen as jy toegang het tot wingerdblare. Ek pluk altyd die mooi jong blare wat nog sag en heeltemal groen is.
Blansjeer die blare in 'n groot pot kokende water vir 5 minute. Gooi die water uit en raak onslae van die dik stele en ergste dik are. Druk droog met kombuispapier en sit eenkant. Nou vir die vulsel - alles in die lewe gaan mos maar oor wat binne aangaan!
Die meeste vulsels is rysgebasseerd en hier kan jy lekker eksperimenteer. 'n Lekker resep is om uie, fennel, fyn suurlemoenskil (zest), pine nuts en rys te soteer in olyfolie to sag. Voeg dan 'n halfkoppie hoender of groente aftreksel by en kook weg op lae hitte to rys 3/4 gaar is of eldente soos die Italianers praat. Giet die rysmengsel in 'n mengbak, voeg dill, petersiele, sout en peper by. Laat afkoel. Skink die witwyn en gesels met jou skoonma.

Sit nou jou wingerdblare plat neer op jou werksoppervlakte. Sit 2 teelepels rys naby die einde van elke blaar. Vou die stam gedeelte oor die vulsel, vou beide kante na die middel en rol hom in so sigaartjie. Moenie dit te styf rol nie, want die rys sal nog swel as dit ten volle gaar is. Druk dit liggies in jou handpalm sodat die rol mooi vas sit. Herhaal met al die blare. Plaas dit nou in 'n lekker groot pan met die vouplek na onder, giet nog 'n halwe koppie aftreksel daaroor met so een of twee suurlemoene se sap. Die vloeistof moet so halfpad oor die dolmades kom. Maak die pan toe met 'n deksel en stoom oor baie stadige hitte vir so 30 tot 40 minute todat die dolmades sag is wanneer jy dit met 'n vurk prik. Bedien by kamertemeratuur of koud met 'n glasie wyn en smul! Laat die griek in jou uitkom en dans sommer met jou skoonma op die tafel.

No comments:

Post a Comment