maak 'n vark van jouself


Dit verbaas my altyd dat daar heelwat mense is wat so half laggerig raak as daar gepraat word oor varkvleis. Dis asof die vark gesien word as tweederangs. Daar is natuurlik mense wat nie vark wil eet nie vanwee geloofsredes. Daarvoor het ek simpatie. As ek terugdink aan my jongdae en bekenstelling aan varkvleis kan ek nogal verstaan hoekom. Onthou jy nog daai varktjops met die meter vet aan? In die koshuis op Stellenbosch was ek so verhonger dat ek daardie vet gulsig opgevreet het. Daardie vark het mos so half "stink vark" geruik en so wild geproe.

Deesdae is daar egter wonderlike vark produkte te koop. Ek het al geskryf oor varkfillet. Ons eet gereeld varknek tjops omdat dit sappig, gesond en goeie waarde vir geld is. 'n Lekker manier om dit te maak is om dit gewoon in 'n lekker warm oond vinnig te rooster. Gebruik 'n lekker growwe roosmaryn of sage en sout mengsel oor die varkie. Daarmee saam kan jy patat of butternut, wortel en spinasie maak. Wat lekker werk is om al jou groente sos patat, butternut, aartappel en wortel in klein 1cm blokkies te sny. Terwyl jou nektjop in die oond braai kry jy 'n lekker groot pan bo op die plaat warm. Braai bietjie uie en knoffel in olyfolie tot sag. Braai jou blokkies groente lekker vinnig en as dit te droog raak offer bietjie van jou glas se witwyn daarby. Voeg sout en peper na smaak by. Die voordeel van die metode is dat die groente lekker vinnig gaar word. Onthou die groente moenie pap wees nie. Nou kan jy die groente in 'n opdienbak oorgooi en vinning jou spinasie braai met bietjie botter - blitsig, jy wil net die spinasie skrikmaak!

Nou bedien jy jou varkie met die groente blokkies en heerlike krakerige spinasie. Maak jou glas witwyn vol en sit op die stoep met die gereggie.

No comments:

Post a Comment