ribbes


Nie soos wanneer jou vrou jou in die ribbes pomp met die elmboog nadat jy onvanpaste grappies gemaak het nie. Wel dieselfde ribbes maar verkieslik van 'n vark afkomstig! Skaapribbetjie is ook lekker maar jy moet versigtig wees vir hom, hy het tande in die vorm van vet en sy byt het my al kwaliteit tyd op die groot wit telefoon laat deurbring!

Nee, hier praat ek van die goeie ou "speribs" soos dit in die volksmond uitgebring word. As kind was ek slapeloos opgewonde as my pa net die woorde "MacRib" genoem het. Dan het ons op 'n Vrydagaand gaan sit in die wit en rooi check restaurant en gesmul and porsies ribbetjies wat nader aan kameel as varkrib in grote kon wees.

Ek is nog steeds baie lief daarvoor en ek en vroulief doen dit op 'n vuurtjie of sommer in die oond op 'n Vrydagaand. Die beste is om die ribbes te koop wat nie te reusagtig dik aan die een kant is nie, want dan is daar gewoonlik baie vet aan en kry jy dit nie egalig gaar nie. Ek weet baie mense kook die ribbes eers en braai dit daarna maar dit voel vir my bietjie erg.

Maak jou eie marinade - enige iets soos soyasous, asyn, olyfolie, sout, peper, ander kruie, suiker of heuning ens sal werk. Laat staan die ribbes vir so uur in die sous. Dan bak jy hom rustig in die oond teen 180 grade vir 'n halfuur, afhangende van dikte.

Moenie te veel fancy bykosse maak nie want jy gaan eet met jou vingers en die besigheid gaan te taai wees. Wat lekker werk is net 'n eenvoudige groenslaai, sommer as voorgereg soos die Franse maak. Dan eet jy en jou geliefdes julle lekker blinkvet en daar is nog bene vir Wagter!

No comments:

Post a Comment