kaaitjie botter

By ons Kaapse depot werk daar 'n forklift drywer. Ek is mal oor hom want hy het houding genoeg vir 'n staatshoof en 'n bek om daarmee saam te gaan. Werklik 'n rare awis. Die ding met hom is dat hy baie brood eet. So as jy te laat in die kombuis kom het hy al die brood sowel as smeergoed opgevreet. Nou moenie dink smeergoed in 'n depot is fancy nie - jy moet kies tussen konfyt, marmite, sandwich spread en kaaitjie botter. Ek wil absoluut niks sê oor sandwich spread nie, dit is te traumaties.

As skoolkind van beide voltyds werkende ouers het my arme ma maar min energie oorgehad om broodjies te maak en was dit maar polonie, marnite en kaas of kaaitjie botter en stroop. Die kinders deesdae het sulke gesonde polities korrekte kosblikke vol heilsame, mooi kossies, neute en vrugte. Ons dae was 'n warm halwe brood gevul met slaptjips en sous of te wel 'n katkop net die ding om jou besige liggaam te onderhou.

Maar laat ek nou terugkom op my storie. So kom ek eendag te laat in die kombuis na die forklift bestuurder en vind net twee korsies en 'n kwart bottel kaaitjie botter. Ek besluit toe maar dat ek nou vir die eerste keer sedert skool dit weer gaan probeer. Ek rooster die korsies, smeer lekker botter op en gee toe 'n dik laag kaaitjie botter. Ek maak toe vir my 'n lekker koppie koffie met vars gemaalde bone om daarmee saam te drink. Nou kou jy laat dit so styf in jou mond sit en spoel die besigheid af met die koffie. Sjoe, is dit nie wonderlik nie!

Wys jou maar net hoe die eenvoudige dinge in die lewe die beste bly.

No comments:

Post a Comment