vodka

Nee, nie noodwendig om te drink nie. Ek is besig om drie pasta sous resepte te test drive. Die eerste hiervan is pasta met vodka  en italiaanse wors sous. Ek het dit gisteraand gemaak en ons het ons behoorlik oorvreet. Wat jy benodig vir 4 mense is:

500g tagliatelli
lekker treksel olyf olie
italiaanse wors, dis hulle weergawe van boerewors met meer varkbasis, jy haal die vleis uit die derm uit. Jy kry dit net by deli's. Jy kan ook gerookde spek of varkworsies gebruik
een halwe ui, fyngesny
sout
grypie rooi peper vlokkies
fyn knoffel, so 2 huisies
1 blik Italiaanse tamaties
3 eetlepels vodka
dubbel room, so 100 - 150 ml
handvol fyngesnyde vars basil en italiaanse pietersielie, los so paar blaarjies basis om aan die einde bo op te sit vir die mooigeit
handvol vars gerasperde Parmigiano-Reggiano

Nou bring jy bietjie olyfolie in jou pan op spoed. Gooi die binnegoed van die worsies in die pan en laat dit lekker braai, voeg nou jou uie, sout en rooi peper vlokkies by en nadat dit blink begin raak jou knoffel en tamaties. Sodra dit dikkerig begin word voeg 3 eetlepels vodka by en reduseer die sous bietjie. Roer die room in en gee kans om vir so 2 minute stadig te prut. Roer jou fyn kruie by en verwyder van hitte.

Nou die pasta. Ek gebruik hiervoor goeie kwaliteit gedroogde tagliatelli. Dit neem 5 minute om te kook. As jou skip ingekom het, gebruik vars gemaakde pasta en dit neem 2 minute. Of as jy nie klein kinders het nie, en nog oor jou lewe beskik - maak jou pasta! Nou roer jy die sous goed deur die gedreineerde pasta maar moenie dit stukkend maak nie.

Skep op en garneer met kaas en basil blaartjies. Skink die Chenin Blanc. Steek op die kers en vertel jou vrou hoe mooi sy vir jou is en hoe jammer jy is dat jy nie meer tyd maak om met haar te connect nie!

No comments:

Post a Comment