risotto alla vegan

Ek wonder partykeer hoekom ek myself aan hierdie uitdagings oorlewer? Maar hoe nou gemaak as jy dierbare vriende kry vir ete en hulle is amper vegans. Volgens Wikipedia is hulle sogenaamde "Lacto-vegetarians" of mense wat geen vleis of eiers eet nie maar wel sekere suiwel produkte. Maar my probleme stop nie hier nie, die vriende drink ook geen alkohol nie en ek is baie lief om te kook met wyn en ander vorms van booze! Natuurlik proe ek ook so van tyd tot tyd net om seker te maak dat die wyn goed genoeg is vir die kos!

Ek besluit om Risotto te maak. Die laaste ding wat el wil doen is om hulle af te skeep met iets soos gestoomde broccoli met 'n wortel as bykos! Risotto is comfort food en ek glo dat dit enige iemand vol en gemaklik kan laat afgly teen sy stoel. Die regte risotto is 'n rys, sogenaamde Arborio rys en daar is nie 'n eier naby nie. Wees net versigtig, mens kry ook 'n pasta rys wat soms as risotto bemark word. Ek gebruik wilde en bruin sampioene as my basis. Mens kan ook nie sommer enige kaas gebruik nie. Pecorino en ander kase het baiekeer 'n diere byproduk in wat 'n "rennet" genoem word, en dit help met die stollingsproses. Wat wel veilig is, is Gruyere kaas. Daar score ek want dit is 'n wonderlike kaas, ryk en romerig maar skerp genoeg om lewe te gee aan my risotto.

Nou moet ek die wynprobleem oorkom. Wanneer jy risotto maak moet jy wyn redelik vroeg in die proses byvoeg. Dit word heeltemal weggekook so mens sou seker kon redeneer dat daar geen alkohol oor is nie maar uit respek vir my vriende het dit nie reg gevoel nie. Wat gee wyn jou nou eintlik in kos? Smaak, ja sekerlik maar wat anders? Eintlik is dit maar net suurkwaliteite of accidity. Kosmaak is mos maar soos die lewe, jy probeer balans inbou. Die balans van verskillende smake gee 'n diepte. Partykeer maak mense kos met geen diepte nie omdat hulle net 'n halfliter room oorgooi en dan dink dit behoort lekker te wees. Interessante kos is kos wat bestaan uit 'n bousel van vae smake, soms skerper smake en bo alles verassende vars smake. Ek dwaal alweer maar ek kan nie help om kosmaak te bind aan die lewe nie.

Dis vraagstukke in my lewe, wat my partykeer wakker hou in die nag. Het my lewe genoeg genuanseerde plekkies waar ek verkillende aspekte van my persoonlikheid in balans kry en my plek in my gesin, my gemeenskap, my land en die universe met liefde vul? Ek weet nie, maar as ek staan voor die kospotte is dit dieselfde vraagstukke waaroor ek wonder. Moet ek die grypie chillie hier ingooi en hoeveel gaan dit brand? Maar as ek hom nou ingooi en genoeg tyd gee om agter in die koor te gaan staan word hy dalk die treksel room se beste vriend omdat romerigheid met 'n klein byt in agtergrond tog beter is as net plein boring romerig. So my raad: speel met kruie en speserye, speel met die verskillende balanse en moenie bang wees om te waag nie - ook in jou lewe!

Reg, ek is so afgedwaal dat ek nie weet waar ek was nie. Lang storie kort, vervang wyn met groente aftreksel en so treksel wit druiwe asyn of suurlemoensap. Volg dieselfde basies resep vir risotto wat ek al gedoen het. Al verskil is die groenteaftreksel, die asyn en aftrekselmengsel in plaas van die wyn en die gruyere kaas. Saam met die sampioene, gruyere, vars origanum en pietersielie en siedaar - die vegetarian express verlaat die stasie.

1 comment: